woman, confetti, sparkles-6318447.jpg

Herskep jouself …

This is an insert of an article I collaborated on in Vroukekeur in April 2017.

In haar nuutste boek “Lugkasteel”, vertel die skrywer Annelie Botes hoedat sy moeg was vir die daaglikse sleur van elke dag werk. Danksy ʼn persoonlike krisis was sy gedwing om die pad Engeland toe te vat om kinders te gaan oppas. Dit het haar uit haar gemaksone gedwing.

Baie van ons beland dikwels in ʼn groef. Dit raak dan nodig om uit jou gemaksone te breek, om jouself te herdefinieer en te herskep. Lida Fourie* vertel dat sy tans in ʼn groef is. “Vir amper 5 jaar is ek in so groef, ek het geen lewe nie, ek bestaan net. My lewe bestaan uit werk, opstaan, werk, opstaan dag na dag na dag dieselfde. My familie praat al van my as die werkoholis. En dis nie eers my passie nie, ek weet nie hoe om dit te verander nie. Dit het alles begin na my man se dood. Ek het uit my werk in die skoonheidsbedryf gestap die dag met sy dood, en die volgende dag in ‘n koerierbesigheid ingestap. My besigheid sorg vir kos op die tafel, maar dit vreet al my tyd op. Ek het nie tyd om aan my kinders en kleinkinders te spandeer nie, ek gaan die minimum uit, en as ek uitgaan is dit al wat in my kop maal: al die werk wat nog gedoen moet word”. Helen Ueckermann, bekende vryskutjoernalis deel haar verhaal soos volg: “Nege jaar nadat my laaste kind uit die huis is, het ek gevoel ek is in ‘n groef van te hard werk en te min beloning. Dit het my begin verveel. Ek wou meer uit die lewe hê en het gevoel ek moet ‘n slag iets wilds aanvang. My man en ek het die saak bespreek, en ‘n paar maande later is ek vort. Ons het darem gereeld geskype, hy het een keer vir my kom kuier, en ek het een keer hier vir hom kom kuier. My ouers is ook in die jaar voor ek oorsee is agt maande uit mekaar oorlede, en ek moes myself ook in daardie opsig hernuwe. Skielik was daardie naelstring finaal gesny en ek moes aanpas by die nuwe werklikheid dat ek nou alleen is, sonder my grootste aanhangers, aanmoedigers en immer gewillige skouers om op te leun en te kreun. In die jaar wat ek in Europa was, van Mei 2015 tot Mei 2016, het ek maar net so hard gewerk, maar tog was alles nuut. Die omgewing, die argitektuur, die verskillende tale en kulture. Die nuwe ondervindings en belewenisse het my weer lewe gegee. Reis is altyd vir my ‘n belewenis, en omdat ek alleen gereis het, was daar al die vryheid gegee waarna ek gesmag het. Ek is goed met alleen wees, verkies dit selfs baie keer, en daarom was ek nooit eensaam nie”.

Wat presies is ʼn groef en hoe beland mens daarin? Volgens Luricka Fick, voorligtingsielkundige kan ʼn groef ʼn negatiewe siklus van onproduktiwiteit, negatiewe gevoellens of verveeldheid wees. So ʼn groef kan soms ons geluk saboteer of onderbreek en die lig aan die einde van die tonnel al hoe dowwer laat skyn. Hoekom beland mense in ʼn groef? Luricka sê mense beland gewoonlik in ʼn groef weens die oormatige afhanklikheid aan roetine of gemaksone, wat op sigself te make het met kontrole en beheer in mense se lewens. “Mense pas sulke strukture toe want dit skep die illusie van kontrole, en laat hulle veiliger of minder hulpeloos voel. Dus vul mense hul lewens met roetine en aktiwiteite, sonder om genoeg kans vir stilte te los sodat kreatiewe denke en sappe weer kan vloei”

Sy sê ʼn ander manier om in ʼn groef te beland is deur inskiklikheid. “Soms is die idee om ʼn nuwe situasie aan te durf, vreesaanjaend, want buite die veilige mure van beheer, is mense meer kwesbaar vir mislukking. Groei en sukses vind buite die mure van so ʼn gemaksone plaas”. Wat is die oplossing vir so iemand? Luricka sê daar is geen universele oplossing nie, maar die poging om menigte oplossings te probeer is moontlik deel van die proses. “Dit help om mens se roetine te verander, of ʼn nuwe kreatiewe klas soos dans of kuns by te woon om weer in kontak kan kom met drome en opgewondenheid oor die lewe. Alhoewel dit baie vreesaanjaend klink, is die doel van die proses, om goed waaroor mens hulpeloos te voel te erken en aan te spreek”. Sy sê verder dit help ook soms om met ʼn terapeut te gesels, want ʼn eksterne oogpunt kan mens help om nuwe perspektief te kry. “Dis ook belangrik om mense wat die persoon ken soos familie en vriende se insette te kry, sodat hulle hom of haar weer kan herinner aan hul sprankel en drome. Mense moet ook herevalueer ook of hulle in ʼn bepaalde rigting gedwing was a.g.v. kultuur of familie of vooropgestelde idees. Dit is dan belangrik dat hulle weer met hul ware self in kontak kom deur op ʼn reis van selfontdekking te gaan. Wat behels dit wanneer iemand hulself herskep? Luricka sê herskep is ʼn wye term wat basies beteken dat iemand ophou waarmee hulle besig is, erken dat hulle in ʼn groef beland het, en die moed bymekaar skraap om nuwe opwindende kanse te vat. “Mens kan hulself in hul werk, gemeenskap, hul rol in die huis, of hul voorkoms herskep. Die spreekwoord sê nie verniet ʼn verandering is so goed soos ʼn vakansie nie.

Kassie 1: Wenke om jouself te herskep

Luricka sê:

Indien ʼn persoon besef dat hulle in ʼn groef beland het, kan hy of sy trots wees op hulself, want erkenning is reeds 50% van die reis na beterskap. Daarna kan so iemand besluit of hul al hul gewig agter die proses wil ingooi, of net baba-treetjies wil neem hulself uit die groef te lig. Dis ook belangrik om te besef dat ʼn groef deel van die lewenspad is en dat die meeste mense op een of ander tyd in hul lewens daarmee wroeg. Mens moet dus deernis met jouself hê. Ontdek jou ware self, of herontdek die ware self wat jy verloor het langs die pad van die lewe.

Nog wenke:

Lynn Robinson, skrywer van die boek : Listen: Trusting Your Inner Voice In Times Of Crisis, gee die volgende raad:
– Erken dat dit tyd is vir verandering.
– Win genoeg inligting in om die verandering te maak.
– Verbind jouself tot aksie.
– Volg jou intuïsie.
– Hou op sê dat jy vasgevang is of dat jy nie weet hoe om te verander nie.

Dr. Bill Knaus, Amerikaanse kliniese sielkundige gee die volgende raad:
– Gryp uitdagings aan.
– Dink oor watter rigting jy wil hê jou lewe moet inslaan.
– Doen dinge waarvan jy hou.
– Wees bereid om jou gemaksone te verlaat.
– Glo dat jy kan verander.
– Moenie uitstel om ʼn nuwe rigting in te slaan nie.
– Vind iets wat sin aan jou lewe sal gee.

Kassie 2: Die rol van Kuns

Charlien Muller is ʼn skilder in Pretoria, wat ook kunsklasse aanbied. Sy sê dit gebeur dikwels dat ʼn sielkundige wat sy ken, van haar kliënte verwys vir kunsklasse. As hulle eers hulle self sover kan kry om te kom vir ‘n klas het hulle reeds die eerste stap geneem om weg te breek uit ‘n groef uit. Baie keer wanneer mense kom vir ‘n klas is hulle in ‘n groef van net dink aan alles wat sleg is in hulle lewe of dinge wat hulle ongelukkig maak. Maar sodra ‘n mens ‘n rukkie werk aan ‘n skildery, dan vergeet mens van al daai ding en jy begin positief voel. Skilder klasse is terapeuties vir sulke mense omdat dit kreatiwiteit vereis en omdat dit vryheid gee aan jou verbeelding om sonder grense enige iets te skep wat jy wil. Dit vat die aandag weg van die negatiewe en die feit dat jyself iets uniek skep, stimuleer die positiewe denke in jou.

Sien jy op om in die oggend op te staan? Is jou lewe saai en vervelig? Jy is dalk in ʼn groef. Lees gerus in die week se Vrouekeur oor maniere om jouself te herskep. Beantwoord die onderstaande vraelys om uit te vind of jy in ʼn groef is.
– Is jy dag na dag vasgevang in dieselfde roetine?
– Is jou lewe saai en vervelig?
– Doen jy dinge oor en oor op dieselfde manier?
– Is jy bang om te waag?
– Maak jou omstandighede jou depressief?
– Strek die toekoms uitsigloos voor jou uit?
– Sukkel jy om weg te breek en iets nuuts te probeer?
– Hou jy rigied vas aan reëls en roetine?
– Verkies jy ʼn voorspelbare lewe?
– Maak verandering jou angstig?
– Hou jy daarvan om by die bekende te bly?
– Laat die bekende jou veilig voel?
– Voel jy asof jy in ʼn tronk is en vasgevang is?
– Maak jou omstandighede jou depressief?
– Glo jy dat jy ʼn gevangene van jou omstandighede is?
– Dink jy dat jy ʼn onvermoë het om te verander?
– Droom jy van ʼn ander tipe lewe?
– Maak jy tyd vir stokperdjies en vriende?

Indien jy meesal “ja” antwoord op bg. vrae, is jy dalk in ʼn groef. Oorweeg dit om professionele hulp te kry. Jy moet self iets doen om weg te breek uit jou omstandighede. Die Chinese het ʼn spreekwoord wat sê: “Die deur se handvatsel is altyd aan die binnekant”.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *